Georg Wilhelm Friedrich Hegel (1770-1831), een van die belangrikste figure in die ontwikkeling van Duitse idealisme, se filosofie staan as "absolute idealisme" bekend, aangesien hy die idee, of gees (verstand) as die eintlike werklikheid beskou - in teenstelling met 'n materialistiese denker soos Karl Marx, wat materie (stof) as primêre werklikheid aanwys. Hegel was die eerste Westerse denker wat die geskiedenis ernstig opgeneem het; volgens hom is alles, spesifiek menslike kulturele aktiwiteite, onderworpe aan historiese ontwikkeling, en beskryf hy hierdie ontwikkeling op verskeie vlakke, insluitende dié wat hy "absolute gees" noem. Op hierdie vlak word wêreldgeskiedenis aan die hand van 'n "dialektiese" ontwikkeling vanaf "subjektiewe" gees (individuele menslike passies en bedoelinge) via "objektiewe" gees (staatstrukture en wette) tot "absolute gees" voorgestel. In hierdie artikel word daar aandag gegee aan wat volgens Hegel op laasgenoemde vlak gebeur, spesifiek met betrekking tot sy raaiselagtige stelling, dat die kuns as "hoogste uitdrukking" van die gees "moet sterf", om plek te maak vir religie en filosofie as manifestasies daarvan op meer gevorderde vlakke. 'n Mens kan tereg wonder wat Hegel daarmee bedoel het in die lig van die voortdurende beoefening van kuns tot vandag toe. Die antwoord is geleë in die frase, "hoogste uitdrukking", wat daarop dui dat hy aan kuns in historiese ontwikkelingsterme dink - met ander woorde, kuns is die draer van die absolute gees tot op 'n bepaalde tydstip, waarna dit plek moet maak vir ander sodanige uitdrukkingsvorme, te wete godsdiens en filosofie. Bowendien is kuns self ook onderworpe aan interne ontwikkeling; vir Hegel is die vroegste kuns simbolies van aard, (met Egiptiese kuns as voorbeeld), gevolg deur klassieke kuns (onder die antieke Grieke) en laastens romantiese kuns (in sy eie tyd). Die verskille tussen hierdie drie kunsvorms word bepaal deur die verhouding tussen idee en materie; in simboliese kuns domineer materie oor die idee in kunswerke, sodat die betekenis daarvan slegs vaagweg gepeil kan word (dink maar aan die Sfinks, as die "simbool van die simboliese"), terwyl daar 'n volmaakte balans tussen idee en materie bestaan in klassieke Griekse kuns, sodat geeneen van die twee dominant is nie (soos in die geval van beeldhouwerke wat die god Apollo voorstel). In romantiese kuns (byvoorbeeld die romantiese skilderkuns van Gericault) vind 'n mens die teenoorgestelde van simboliese kuns, met die idee wat dermate oor die materie heers dat dit byna daarin slaag om in denkbeeldige vorm daarvan los te breek. Hierdie is volgens Hegel die "hoogste" ontwikkelingspunt wat kuns as draer van die gees kan bereik, voordat dit plek maak vir religie as "beelddenke" en uiteindelik filosofie, waar die gees as idee suiwer, sonder enige stoflike oorblyfsel, tot uitdrukking kom. Hier voltooi die absolute gees die ontwikkelingstrajek daarvan, wat by die objektiewe vergestalting daarvan begin en via subjektiewe beliggaming uiteindelik in absolute "selfkennis" kulmineer. Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit egter tematies betekenisvol dat Hegel ook melding maak van die voortbestaan van kuns ná die punt waar dit afstand doen van die titel van "hoogste" manifestasie van die gees of idee, naamlik in die gewaad van "kritiese", polemiese kuns, wat vry geword het van spesifieke wêreldbeskouings. 'n Mens kan in die moderne kunsbewegings van die vroeë 20ste eeu - insluitende kubisme, abstrakte ekspressionisme, konseptualisme en futurisme - die beliggaming van hierdie verwagting by Hegel bespeur, waar hierdie soort kuns telkens die ontologiese aanspraak maak dat dit die ware werklikheid blootlê. As besonder treffende tydgenootlike uitdrukking van sodanige (radikale) kritiese kuns word Andy Goldsworthy se ekologiese kuns ten slotte onder die loep geplaas.