In Antjie Krog se bundel mede-wete verskyn 'n aantal gedigte waarin die ek-spreker se soeke na 'n nuwe soort spiritualiteit verwoord word en waarin die implisiete versugting na die eenheid van alle dinge voorkom. Die doel van hierdie artikel is om 'n teoretiese konsep aan die hand te doen waarvolgens die spirituele aspekte in hierdie bundel bespreek kan word. Teorieë oor outobiografie as spirituele praktyk, veral in die digter se laatwerk, sowel as postsekularisme en ekopsigologie sal vir hierdie doel ingespan word. Daar sal hoofsaaklik eksemplaries te werk gegaan word deurdat enkele kerngedigte in die bundel ontleed word, te wete "moniaal", " 'n eland staan by 'n kuil", "ongelowig is nie die regte woord nie" en "kerssonnet". Daar word aangetoon op welke wyse Krog kategorieë of gehele wat in moderne tye hulle relevansie verloor het, poëties nuut verwoord deur te fokus op die verbeelding van 'n groter geheel waarin plante, diere en mense interverbonde is en interafhanklik van mekaar bestaan. Sodoende word die grense van die paradigma van egosentrisme waarin moderne mense verval het, opgehef en bestaande religieuse grense word deurbreek deurdat holisme op kreatiewe wyse as nuwe werklikheid daargestel word.
Read full abstract