Abstract
Geskille tussen belastingbetalers en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens is ’n alledaagse gebeurtenis. Alternatiewe geskilbeslegting is in hierdie opsig ’n belangrike hulpmiddel. Dit is omdat belastinglitigasie, soos alle ander, tydrowend en duur is. Terwyl die Suid-Afrikaanse Inkomstediens egter op belastingbetalerskoste litigeer omdat sy koste gefinansier word uit belasting wat ingevorder word, litigeer belastingbetalers op eie koste met beperkte hulpbronne. In die praktyk skep dit onbillikheid: enersyds kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, vanweë sy toegang tot die openbare beurs, die koste van litigasie op enige vlak van die geregtelike hiërargie bekostig; aan die ander kant, as gevolg van finansiële beperkings, word toegang tot geregtigheid vir die meeste belastingbetalers deur appèltribunale en geregshowe ernstig beperk. Om hierdie rede is alternatiewe geskilbeslegtingsprosedures van kritieke belang om toegang tot geregtigheid te verseker vir die meerderheid belastingbetalers wat in belastingdispute gewikkel is. Hierdie artikel toon dat die nuwe reëls nie onafhlanklik nie maar in tandem met die Wet op Belastingadministrasie 28 van 2011 werk: terwyl laasgenoemde alternatiewe geskilbeslegting as ’n moontlike meganisme vir die oplossing van betwiste kwessies in ’n hangende appèl erken, skryf die nuwe reëls die prosedures voor wat gevolg moet word wanneer hierdie proses ook al gekies word. Hierdie proses wat gevolg moet word, is nou verbind met die behoorlike funksionering van Suid-Afrika se belastingadministrasiestelsel en die bereiking van die doelwitte soos uiteengesit in artikel 2 van Wet 28 van 2011. Sodoende vestig hierdie artikel ’n rasionele verband tussen, aan die een kant, die doel waarvoor die magte aan die minister verleen is in artikel 103(2) gelees met artikel 257(1), en die uitoefening daarvan by wyse van die inwerkingtreding van die nuwe reëls wat verband hou met alternatiewe geskilbeslegting, aan die ander kant. Die ontleding van die nuwe reëls in hierdie artikel toon egter dat, hoewel belastingbetalers ’n reg het om alternatiewe geskilbeslegting te versoek, hulle nie ’n reg het om deelname aan sodanige proses deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens af te dwing nie. Dit ondermyn die doeltreffendheid van die alternatiewe geskilbeslegtingsmeganisme wat in wetgewing verorden is. Gevolglik word aanbeveel dat reël 13 gewysig word deur ’n bepaling by te voeg wat ’n reg verleen van die soort wat hier beoog word. Boonop toon hierdie artikel dat belastingbetalers ingevolge die nuwe reëls nie die reg het om redes te versoek vir ’n besluit deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens om ’n versoek om alternatiewe geskilbeslegting af te wys nie. As ’n remedie word aanbeveel dat ’n bepaling in die nuwe reëls ingevoeg word wat aan belastingbetalers ’n reg verleen om redes vir ’n besluit van hierdie aard te ontvang. Sodoende sal toegang tot onderhandeling en versoening onder die nuwe reëls meer sinvol en doeltreffend gemaak word. ’n Verdere voordeel van so ’n wysigingsbepaling sou wees dat dit die alternatiewe geskilbeslegtingsmeganisme in die nuwe reëls aansienlik meer belastingbetalergesentreerd in sy vooruitsigte sal maak as wat tans die geval is.
Talk to us
Join us for a 30 min session where you can share your feedback and ask us any queries you have
Disclaimer: All third-party content on this website/platform is and will remain the property of their respective owners and is provided on "as is" basis without any warranties, express or implied. Use of third-party content does not indicate any affiliation, sponsorship with or endorsement by them. Any references to third-party content is to identify the corresponding services and shall be considered fair use under The CopyrightLaw.