Abstract

'n Onderwysstelsel is 'n raamwerk wat in die onderwysbehoeftes van 'n bepaalde teikengroep voorsien. Onderwysstelsels bestaan uit verskillende komponente en elemente om doeltreffende onderwys aan die hele teikengroep met bepaalde onderwysbehoeftes te verskaf. Hierdie komponente sluit die onderwysstelselbeleid, onderwysstelseladministrasie, onderwysstruktuur en ondersteuningsdienste in. Vir 'n onderwysstelsel om doeltreffend te funksioneer is dit nodig dat alle komponente volgens 'n bepaalde plan meewerk. Nuwe uitdagings word voortdurend aan onderwysstelsels gestel en daar is gedurig verandering in tegnologie, die gemeenskap, die teikengroep en die kurrikulum. Om te verseker dat doeltreffende onderrig in die onderwys-situasie plaasvind, is onderwys afhanklik van bykomende hulp van buite die onderwys. Hierdie ondersteuningsdienste (bykomende hulp) is noodsaaklik vir die doeltreffende funksionering van onderwys en lewer 'n bydrae tot die doeltreffendheid van onderwys. Die behoefte aan spesifieke tipes onderwysondersteuningsdienste verskil ten opsigte van verskillende onderwysstelsels, aangesien die behoeftes van die betrokke teikengroepe van mekaar kan verskil. Hierdie studie bestudeer onderwysondersteuningsdienste vir leerders as 'n komponent en element van die onderwysstelsel in die BRICS-lidlande en identifiseer die beste praktyke in die onderwysondersteuningsdienste in die lidlande. Die doel van die studie is gesetel in die feit dat daar in die verlede kommer by verskeie onderwysowerhede bestaan het ten opsigte van ondersteuningsdienste wat nie optimaal funksioneer nie en sodoende nie in die onderwysbehoeftes van onderwysers en leerders, asook onderrigaktiwiteite en -strukture, voorsien nie. Die navorsing is uitgevoer vanuit 'n kwalitatiewe navorsingsbenadering binne die raamwerk van die interpretivistiese navorsingsparadigma met behulp van dokumentontleding as metode van datagenerering. Die volgende temas uit die literatuurondersoek is geïdentifiseer: inklusiewe onderwys; hulpverlening aan leerders deur middel van mediese en tandheelkundige dienste; maatskaplike dienste; en voedingsdienste. Hierdie navorsing vorm deel van 'n groter BRICS-navorsingsprojek. Die BRICS-lidlande is as deelnemende lande vir die studie gekies aangesien al vyf lidlande betrokke is by die identifisering van hul behoeftes en die vestiging van aksieplanne om uiteindelik in die onderwysbehoeftes van die teikengroep te voorsien.

Full Text
Published version (Free)

Talk to us

Join us for a 30 min session where you can share your feedback and ask us any queries you have

Schedule a call