Abstract
Die internasionale beleggingsregstelsel word toenemend gekritiseer as gevolg van ’n persepsie dat daar wanbalanse in die stelsel is wat in beleggers se guns werk, wat aanleiding gee tot omstrede debatte oor die regte en verpligtinge van partye. Een terugkerende kwessie draai om gevalle van parallelle prosesse, geïllustreer deur sake soos CME Czech Republic BV v The Czech Republic en Lauder v Czech Republic, waar beleggers en meerderheidsaandeelhouers afsonderlik identiese eise voor beleggingstribunale ingestel het. Die beginsel van res judicata, gewortel in die versekering van finaliteit en prosedurele doeltreffendheid, het na vore gekom as ’n potensiële oplossing om parallelle litigasie te voorkom. Nietemin bly die toepassing daarvan in beleggingsarbitrasie omstrede, veral ten opsigte van besluite oor jurisdiksie. In hierdie bydrae word die kompleksiteite rondom res judicata in beleggingsarbitrasie krities ondersoek, met die fokus op die toepassing daarvan op jurisdiksionele besluite. Die artikel ontleed debatte oor die vraag of sodanige besluite binne die tribunaal die effek van res judicata moet hê en ondersoek scenario’s waar tribunale ongunstige toekennings oor jurisdiksie uitreik. Deur analise van relevante sake en regsbeginsels word met hierdie artikel daarna gestreef om prosedurele doeltreffendheid met regverdigheid te versoen, sonder om die afdwingbaarheid van tribunale se beslissing te ondermyn of om ’n party van die reg te ontneem om beswaar aan te teken waar nuwe feite ’n tribunaal van jurisdiksie ontneem. Die beginsel van res judicata, alhoewel bekend in nasionale reg, neem unieke dimensies aan in beleggingsarbitrasie. Die toepassing van res judicata verskil tussen ICSID- en nie-ICSID-prosedures, met implikasies vir jurisdiksionele uitdagings en die finaliteit van besluite. Tribunale het geworstel met die vraag of besluite orr jurisdiksie as finaal en bindend beskou moet word, wat tot teenstrydige interpretasies en prosedurele onsekerhede gelei het. In hierdie artikel word die rigiede toepassing van res judicata op jurisdiksionele besluite gekritiseer en word geargumenteer ten gunste van ’n meer genuanseerde benadering wat prosedurele doeltreffendheid met partye se regte sal balanseer. Dit beklemtoon die praktiese uitdagings van die toepassing van res judicata op aanhoudende prosesse en stel alternatiewe meganismes voor om prosedurele regverdigheid te beskerm. Deur die praktiese implikasies van res judicata te ondersoek, dra hierdie artikel by tot verdere debat binne beleggingsarbitrasie en bied insigte in die versoening van teenstrydige belange in die nastrewing van billike geskilbeslegting.
Talk to us
Join us for a 30 min session where you can share your feedback and ask us any queries you have
Disclaimer: All third-party content on this website/platform is and will remain the property of their respective owners and is provided on "as is" basis without any warranties, express or implied. Use of third-party content does not indicate any affiliation, sponsorship with or endorsement by them. Any references to third-party content is to identify the corresponding services and shall be considered fair use under The CopyrightLaw.