Abstract

Die Franse skrywer en strukturalistiese antropoloog Claude Lévi-Strauss (1908-2009) se standpunte oor kulturele identiteit en multikulturalisme word sedert die tweede helfte van die twintigste eeu deur Unesco bevorder. Die belang van kulturele identiteit en die implikasies van die beskerming daarvan is ook reeds deur vooraanstaande filosowe soos Will Kymlicka, Charles Taylor, Martha Nussbaum en Jürgen Habermas ondersoek. Die beklemtoning van kulturele identiteit het in die post-onafhanklikheidsera vir Afrika-state belangrik geword. Die begrip inheemsheid is aangegryp om die oorspronklike houers van en aanspraakmakers op kulturele regte te identifiseer, en om kwesbare, gemarginaliseerde en geviktimiseerde kultuurgroepe op grond van hul inheemse status te beskerm. By gebrek aan ʼn aanvaarbare definisie van inheemsheid het die praktyk ontwikkel om inheemse status uit te brei na alle inwoners van Afrika, met die gevolg dat oorspronklik gemarginaliseerde groepe, soos die San, steeds aan voortgesette marginalisering onderworpe is. Suid-Afrikaanse beleidmakers en die wetgewende gesag het die toekenning van inheemse status, veral op die terrein van die intellektuele goederereg, benut om die regte op inheemse kennis aan inheemse gemeenskappe toe te ken, soortgelyk aan die wyse waarop kulturele identiteit in lande soos Botswana beskerm word. Volgens die 2004-beleidsdokument oor inheemse kennis word die eiendomsreg op inheemse kennis as kulturele erfenisbates aan inheemse gemeenskappe verleen. Gevolglik word individue wat as outeurs, ontwerpers en toepassers van sodanige inheemse kennis gebruikmaak se regte ingekort. In hierdie artikel word die implikasies van die beskerming van inheemse kennis as kulturele erfenisbates ondersoek en die beskerming van sodanige kennis op grond van kulturele identiteit bespreek. Daar word ook op die gevare van kulturele relativisme, wat in die beoogde beskerming opgesluit lê, kommentaar gelewer.

Full Text
Published version (Free)

Talk to us

Join us for a 30 min session where you can share your feedback and ask us any queries you have

Schedule a call