Sort by
Variables which relate to the achievement of black high school learners in Afrikaans as a second language

Navorsingsgegewens oor prestasie in 'n tweede taal kan nie sonder meer op Afrikaans by swart leerders van toepassing gemaak word nie, gesien in die lig daarvan dat swart leerders nie in hulle moedertaal onderrig word nie, maar in Engels wat alreeds hulle tweede taal is. 'n Verdere probleem is dat vorige ondersoeke nie beide kognitiewe en affektiewe veranderlikes betrek het nie. Die kwaliteit van onderrig of leerstyl van die leerders word ook nie gelyktydig saam met kognitiewe en affektiewe veranderlikes ondersoek nie. Dit is gevolglik moeilik om vas te stel watter van hierdie veranderlikes as die belangrikste beskou kan word ten einde die variansie in die prestasie van Afrikaans as 'n tweede taal te kan verklaar. 'n Empiriese ondersoek is uitgevoer waarby 174 swart hoërskoolleerders betrek is. Kognitiewe en affektiewe veranderlikes, asook leerders se leerstyle, is gemeet. Uit die empiriese ondersoek blyk dit dat selfkonsep, geheue, verbale begrip en motivering as die belangrikste veranderlikes beskou kan word wat met prestasie in Afrikaans as tweede taal verband hou. Leerstyl is nie as 'n belangrike faktor geïdentifiseer nie. Uit die resultate kan twee spesifieke aanbevelings gemaak word: Eerstens moet die belangrikheid van lees opnuut deur onderwysers beklemtoon word. Die aanbeveling word gemaak op grond daarvan dat verbale begrip as 'n belangrike kognitiewe veranderlike na vore gekom het. Verbale begrip hou verband met aspekte soos woordeskat-uitbreiding en sinskonstruksie wat in 'n groot mate deur leesaktiwiteite bevorder word (Echols, West, Stanovich & Zehr 1996:296-304). Tweedens moet onderwysers daarop bedag wees dat affektiewe faktore 'n belangrike rol in die klaskamer speel waar 'n tweede taal onderrig word.

Open Access
Relevant
The relation between selected biographical variables and the attitude of Grade R teachers towards the development of perceptual motor skills of Grade R learners

Die ontwikkeling van Graad R-leerders se perseptueel-motoriese vaardighede kan moontlik beïnvloed word deur die Graad R-onderwyser se houding. 'n Positiewe houding sal die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede bevorder, terwyl 'n negatiewe houding kan veroorsaak dat nie aandag gegee word aan dié vaardighede nie. 'n Kwantitatiewe metode is gevolg om te bepaal of die ontwikkeling van perseptueel-motoriese vaardighede by Graad R-leerders deur die onderwyser se houding beïnvloed kan word. Die respondente (n=25) wat volgens 'n gerieflikheidsteekproef geselekteer is, het 'n self-opgestelde vraelys voltooi. Resultate is statisties geanaliseer deur middel van beskrywende statistiek asook as Spearman se rangorde-korrelasie, om verbande te ontleed tussen die onderwysers se ouderdom en ondervinding, die sosio-ekonomiese omstandighede en die aantal leerders in die klas aan die een kant, met die tyd wat aan vakke in Graad R bestee word aan die ander kant. Daar is verder gebruik gemaak van tweerigting-frekwensie-tabelle met Chi-kwadraattoetse en Cramer's V om die sterkte van die verband tussen ras, taal van onderrig en die vrae wat verband hou met houding, te bepaal. 'n Beduidende verband is gevind tussen die onderwysers se ouderdom, die ondervinding van die onderwysers, die aantal leerders in die klas, die sosio-ekonomiese omgewing, en die tyd wat aan vakke bestee word. Ouer onderwysers met min ervaring en oorvol klasse bestee minder tyd aan onderrig van verskillende vakke. Indien dié aspekte aangepak word deur indiensopleiding, kan dit moontlik 'n positiewe effek uitoefen op die onderwyser se houding teenoor die onderrig van Lewensvaardighede, waarby die ontwikkeling van leerders se perseptueel-motoriese vaardighede sal baat om uiteindelik neer-slag te vind in beter skoolgereedheid van Graad 1-leerders.

Open Access
Relevant
Political and legal philosophical perspectives on politocratic communitarianism: A discourse with Danie Goosen and Koos Malan

In hierdie artikel word aangevoer dat kommunitariese politieke en regsteorieë die afgelope twee dekades in Suid-Afrika op die voorgrond getree het. Twee vergestaltings daarvan kan onderskei word: Ubuntu-kommunitarisme en politokratiese kommunitarisme. Terwyl eersgenoemde beduidende ondersteuning in die Suid-Afrikaanse regsliteratuur verwerf het, het laasgenoemde benadering hoofsaaklik tot die Afrikaanse literatuur beperk gebly. Die fokus val op politokratiese kommunitarisme en politieke en regsfilosofiese implikasies daarvan. Politokratiese kommunitarisme berus op die Aristoteliese teleologie, 'n Skolastieke synsontologie en Hegel se dialektiese idealisme. As vertrekpunt neem politokratiese kommunitarisme die Aristoteliese stadstaat (polis). Die stadstaat ontwikkel evolusionêr as "tussen-gemeenskap" tot die Hegeliaanse konkreet-universele staat. Die eindproduk is die totalitêre organismiese staat. Kommunitariese politokrate slaag nie in hul projek om die statisme van die liberale individualisme te oorkom en 'n normatiewe alternatief vir statisme, politieke universalisme en die absolutistiese staat te stel nie. In hierdie artikel word tot die slotsom geraak dat die filosofiese hiate in die staats- en regsdenke van politokratiese kommunitarisme belangrike implikasies het: Die organismiese konsepsie wat spruit uit hierdie denke lei eerstens tot die postulering van 'n trans-individuele utopie gebaseer op 'n abstrakte gemeenskapslewe; tweedens is dié organismiese staat noodwendig 'n totalitäre (en absolutistiese) vorm van politieke gemeenskap; derdens, is die organismiese politieke gemeenskap 'n innerlik-teenstrydige en ongedifferensieerde vorm van politieke assosiasie en die organismiese staat word georden sonder erkenning van fundamentele regte.

Open Access
Relevant